Klapper & Hawermout koekies

Met die geraas wat ons deesdae beleef tussen ‘n verskeidenheid van sosiale netwerke is dit so maklik om jouself te verloor. ‘n Vriendin laatweet vanoggend “Jong, my whatsapp was gisteraand gebreek. Facebook & Instagram ook!” Ons hele wêreld het vir ‘n wyle tot stilstand gekom. En dit het my skoon hartseer laat voel.

Ek is konstant aan die dink en worstel oor waar Seisoenaal se plekkie in die son is. Met ‘n legio ander kosskrywers reg oor die land wie se sosiale media ‘n lushof vir die oog is, kan ek so vinnig minder as genoeg voel. Vaal voel. Onvoeldoende voel.

Ek vergeet van die reuk van varsgebakte mosbeskuit wanneer die aga stoof rooi gloei op ‘n wintersdag. Ek vergeet die geluid van vet dorpertjoppies wat stadig uitbak in my Defy Super Twenty gasstoof. Ek vergeet die onthou van ouma se ingelegde sousbone en die smaak van haar immergewilde boerbeskuit (met ekstra vet in, want dis lekkerder so!) Ek vergeet om eg te wees aan die plek waar my wortels lê.

Vanoggend het ek met ‘n koppie Moerkoffie op ons stoep tot die kosbare besef gekom dat Langtafel se andersheid juis in die eenvoud lê. My grootwordjare in die Boesmanland en my koskennis uit hierdie wêreld gee my ‘n onregverdige voorsprong. Ons kook nie met kopkennis nie, ons kook met hart, siel en menswees. Ons kook nie net geregte nie. Ons kook kos wat stories vertel van moeilike jare in ‘n swart droeë Boesmanland. Ons maak kos wat vertel van ‘n karmenaadjie (‘n skottel gasvryheid wat op slagdag met die bure gedeel word) Ons kook kos wat voor geswoeg en gesweet is. Wat nie uit winkels uit kom nie, want jou naaste dorp is 140 km.

Ons stories is als behalwe minderwaardig. Ons kos is als behalwe eenvoudig. Ons vertel stories met alles wat ons doen. En dit is tyd om hierdie onthou-stories, grootword-stories, kos-stories te deel!

Ek deel vandag dus ‘n eenvoudige resep – ‘n grootword gunsteling in baie kombuise! Dankie Ma Marinda vir die bekendstelling van hierdie lekkerte ook in ons Nel-Marais huis.

Marli Visser

Klapper & Hawermoutkoekies

'n Absoluut gunsteling in enige kinderhuis! Hierdie is 'n gesonder lekkerny as die gewone soetkoekie en is propvol vesel.

Ingredients
  

  • 250 g margarien
  • 15 ml goue stroop
  • 5 ml koeksoda
  • 250 ml fyn klapper
  • 375 ml koekmeel
  • 250 ml witsuiker
  • 500 ml hawermout
  • 125 ml neute (gekap)

Method
 

  1. 1. Smelt margarien en stroop saam oor medium hitte.
  2. 2. Voeg koeksoda by bogenoemde en meng lekker.
  3. 3. Gooi res van die bestanddele saam in 'n groot mengbak. Roer deur tot gemeng. Voeg gesmelte mengsel hierby.
  4. 4. Spuit 'n bakplaat goed en druk dan bogenoemde mengsel lekker stewig in die bakplaat vas.
  5. 5. Bak by 180°C vir ongeveer 20 minute. Sny in blokkies sodra dit uit die oond uit kom. Laat goed afkoel voordat jy uit die pan haal.
  6. 6. Geniet saam met 'n lekker koppie moerkoffie terwyl jy langbeen op die stoep sit

Ek lees onlangs die aanhaling deur ‘n baie wyse, anonieme persoon: “Ons het niks in hierdie lewe ontvang om dit vir onsself te hou nie…”

En ek glo dit met ons familie resepte en stories ook. Geen ervaring word geskep om alleen te ervaar nie. Ons moet deel. Ons moet ons stories, gevoelings, ervarings en resepte deel.

Mag jy hierdie week die voorreg hê om uit te reik na iemand anders en te deel. Deel jou hart, deel jou trane, deel jou vreugdes. Maak ‘n koppie tee en ‘n baksel Hawermoutkoekies en gaan gee iemand anders weer nuwe moed.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

nog lekker resepte