‘n Familieboerdery oor geslagte heen

Die Boesmanland se seisoene kan werklik ekstreem wees.  In die somer is dit snerpent warm – so dat die sonbesies luidrugtig raak en die skape lui in die skadukol van ‘n Witgatboom lê.  Hierdie jaar is dit vroegherfs met dik sleepmis wat oortrek uit die weste uit.  Soutslaaie staan blink in die oggendson en die skaap wei teen die hange.  Jy sien net witspikkels teen die donkergroen kleur van nuwe veld.  As die winter kom is die Boesmanland niemand se vriend nie.  Die drade en veld is smôrens spierwit geryp en krippe is bedek met ‘n dik laag ys.  Die skape skuil in skeure en sandlaagtes.  Die lente arriveer saam met die Augustus wind en waai selfs die optimiste tussen ons in ‘n donker plek in.

As daar een familie is wat die Boesmanland en sy seisoene verstaan is dit die Visser familie van Musimon Boerdery.  Hierdie familie boer al sedert 1888 in die Boesmanland, net duskant Pofadder in die Noord-Kaap.  Kennis oor die veld, sy diere en uitdagings van hierdie geharde wêreld word van geslag tot geslag oorgedra en skaapboerdery is in hul bloed.  Vir die afgelope 138 jaar fokus hul hoofsaaklik op skaapboerdery en die selektering van goeie genetika wat aangepas is vir die Boesmanland en sy ekstreme omstandighede.

Die Visser familie het gou geleer dat goeie kwaliteit vleis begin by die behoorlike bestuur van beide jou veld en kudde.  Daarom besef hul hoe belangrik dit is om jou te laat lei deur die seisoene en die ritmes van die natuur.  Dek en lamseisoene word fyn beplan.  So ook die rotasie van troppe en die herstel van veld waar en wanneer nodig. 

Waarom direk bemark aan die verbruiker?  “Ons het ‘n behoefte om ons vleis direk vanaf die veld na die verbruiker se bord te bring. Dit bied ons die geleentheid om ons storie te vertel van generasies se harde werk en liefde en passie vir ons diere.  Dit is ‘n ongelooflike voorreg om jou eie kwaliteit produk op die tafel te sit en dan met hartsmense te deel.  Lamsvleis is ‘n duur kommiditeit en juis daarom rus daar ‘n enorme verantwoordelikheid op skaapvleisprodusente om ook hul deel te doen om verbruikers in te lig oor hoe om skaapvleis behoorlik voor te berei om sodoende te verseker dat jy waarde vir jou geld kry.  Met direkte bemarking vanaf die plaas na jou tafel word onnodige ekstra kostes onmiddelik gesny.”

“Ons diere is almal vrylopend en 100% hormoonvry.  Elke skaaptjop wat jy koop dra die geur van die seisoen en die vleis het nie souse en speserye nodig tydens voorbereiding nie.  Gooi ‘n paar lekker Boesmanlandse lamstjops op die kole met net sout en peper, roosterkoek, ‘n goeie glas rooiwyn en lekker mense om jou tafel.  Beter sal jy nie kry nie!”

Musimon Boerdery se skaapvleis is op hierdie stadium eksklusief beskikbaar by die familie se gastehuis op Pofadder [Wickenshuis].  Vir enige verdere navrae oor hul vleis of die naspeurbaarheid van hul vleis kontak gerus vir Theunis Visser by theunisvisser@icloud.com.

Daar is soveel gonswoorde en “labels” wat deesdae gebruik word om vleis aan verbruikers te bemark.  Organies, hormoonvry, vrylopend, gesertifiseerd en nog vele meer.  Dit is egter baie belangrik dat verbruikers verstaan wat die termes beteken en waarom sekere termes werklik waarde dra.  Hou ons blog dop vir meer inligting hieroor.

nog lekker resepte