‘n Laaste keer
Hierdie week het ek met meer as een persoon die gesprek gehad oor “Wat as vandag jou laaste dag is?” ‘n Vraag wat al effens holrug gery is, maar wat my hierdie week anderster laat dink het.
Die idee van “leef elke dag asof dit jou laaste is” is nogal vir my ‘n uitpuntende gedagte!
Maar hoe anders sou ons lewe nie gewees het as ons geweet het wanneer dit jou laaste keer is nie? Hoe anders sou ek nie my ma gegroet het na ‘n lang week by die koshuis op 7 November 2008 as ek geweet het dis my laaste keer nie. Hoe anders sou ek nie daardie laaste 30 minute aangewend het nie? Hoe anders sal ek nie my man groet in die oggend as ek weet vandag is die dag wat die son oor een van ons lewens sak nie.
Hoe anders sal ek nie optree teenoor my hartsmense (en vreemdelinge) as ek weet daar gaan nie nog ‘n geleentheid wees nie? Dalk sal ek vriendeliker wees met die boemelaar langs die pad. Dalk sal ek minder tyd op my foon spandeer en meer tyd diep in my kinders se oë kyk om hul hart te hoor. Dalk sal ek minder en meer teenwoordig wees. Dalk sal ek stilbly eerder as om ‘n opinie te lewer wat ander se gevoelens seermaak.
Vanoggend kry ons die vraag “Wie het gesê jy is gewaarborg die dag van more? Dalk is vandag werklik jou laaste – wie sal weet?”
Een ding weet ek verseker – as vandag my laaste is sal ek pampoenkoekies met karamelsous eet vir al drie maaltye. Bedien met ‘n lekker Boesmanland skaaptjoppie!

Pampoenkoekies
Ingredients
Method
- Klop pampoen, butternut, eiers en sout saam.
- Sif bruismeel en bakpoeier saam en meng met pampoenmengsel tot 'n sagte deeg.
- Verhit kookolie in 'n kastrol oor matige hitte.
- Skep opgehoopte teelepels vol pampoenmengsel in warm olie en braai tot goudbruin en gaar.
- Dreineer poffers op kombuispapier, skep in opdienbak en hou warm.
- Verhit al die stroopbestanddele (behalwe karamel geursel en mielieblom) saam tot kookpunt.
- Meng mielieblom met 'n bietjie koue water tot 'n pasta en roer by die stroop. Kook vir 3 minute saam. Verwyder van hitte en voeg karamel geursel by.
- Gooi warm stroop oor warm poffers en bedien.
Ek sluit my cliché blog af met ‘n pragtige gedig van Hester Heese, wat mens nogal laat dink…
Jy mag maar jou koffie slurp of in die piering gooi
Jy mag maar met vuil voete oor die wit mat loop
Jy mag jou naels byt
vals sing
Die badkamer omkrap
swak groente huistoe bring
die nat vloer opdroog met my waslap
Skakel maar die radio aan om ses in die more en luister hoe hulle brabbel
oor veevrektes
aartappelroes
inseminasie
Jy mag maar snags hard snork
oor koue voete brom
As jy net terug wil kom….
Mag jy hierdie week liefhê, dien, omgee & luister asof dit jou laaste is.
Met liefde uit my Boesmanland kombuis xxxx