Stoepkuier met mamma Aranke
As ‘n mamma in die Boesmanland kan die dae soms lank en alleen raak. Op sulke dae dank ek Vader vir die voorreg om vriendinne soos Aranke Carstens te he. Sy ken van mamma wees in die Boesmanland – haar een dogtertjie het self kaalvoet gehardloop op hierdie stuk aarde. Sy inspireer my elke dag met haar manier van stadiger en rustiger kinders grootmaak – al bly hulle nie meer in die Boesmanland nie.
Maak vir jou ‘n lekker warm koppie koffie, trek jou pantoffels aan en kom kuier saam met ons!

- Deel asb in ‘n kort paragraaf jou mamma reis? Hoeveel kinders, ouderdomme en wou jy nog altyd ‘n mamma wees?
As iemand wat visueel ingestel is, het ek vandat ek ‘n klein dogtertjie is, prentjies gehad oor mamma wees. Ek onthou hoe ek gedroom het oor ‘n outydse plaaskombuis met ‘n groot tafel waar ons gesin saam kan eet en lag en gesels. En ook hoe ek in die tuin met my kinders verf. Vandag is ek ‘n mamma van 2 dierbare dogtertjies, Lente( 4) en Fleur( 3) en ons besige seuntjie kind, Albertus (10 maande)



2. Jou moederskapstyl is ongelooflik kreatief en “bewustelik”. Hoe kry jy dit reg om stadig en intensioneel te leef in ‘n besige en vol seisoen?
Ek dink dis so belangrik om te onthou dat hierdie ook net ‘n seisoen is in my lewe. Ek gaan nie altyd klein handjies hê wat myne soek, of skaduweetjies wat my oral agtervolg nie.
In terme van stadig en intensioneel is iets wat goed vir ons gesin werk ritmes, in plaas van vaste roetine. ‘n Ritme is ‘n spesifieke tyd wat uigesit word, waarin sekere goed moet gebeur. Dit hoef nie elke dag in dieselfde volgorde te gebeur nie, maar dit skep ‘n tipe van standvastigheid/veiligheid vir die kinders, maar gee ook vryheid binne in die tydgleuf. Die kinders weet wat om te verwag en wat van hulle verwag word. Iets wat vir kleuters BAIE belangrik is op hierdie stadium. En dit skep ook bietjie vryheid vir my binne in die tydgleuwe.
Ook, in ‘n ideale wêreld lyk alles altyd goed en mooi en asof jy alles reg doen, maar in werklikheid het my kindertjies ook tantrums en wil nie eet nie en baklei met mekaar en raas hulle boetie wakker en verloor ek partykeer my humeur. Ek dink die geheim is om altyd reg te maak as jy verbrou het, om verskoning te vra en erken as jy verkeerd opgetree het. So leer hulle by ons en ons ook by hulle.
3. Jy is ‘n tuisbly mamma – en alle tyd, drome en baie ure se dien kan somtyds ongesiens verbygaan. Wat hou jou aan die gang? Hoe kry jy dit reg om elke oggend met nuwe moed en krag aan te pak?
Met baie gebed en genade van die Here! Dit is nie altyd maklik om 3 kindertjies onder 5 voltyds by die huis te hê nie, maar dit is die keuse wat ons gesin gemaak het en dis my GROOTSTE voorreg om daar te wees vir elke mylpaal en stukkende toon. Ek verruil dit vir niks!
Ek probeer onthou dat die gewone, alledaagse is waar die “magic” gebeur! Hierdie is my moederskaps reis, maar dis ook hulle fondasie jare/hulle kind wees tyd. En as dit die dag rerig rof gaan, stuur ek maar ‘n ekstra gebedjie op vir geduld!
4. Is daar iets spesifieks wat jy graag doen om net so af en toe asem te skep? (met of sonder die kinders =)
Van ‘n praktiese oogpunt, het ek ‘n paar goedjies wat ek probeer doen om my tenkie vol te hou, want ek dink dit is SO belangrik om ook jouself te versorg. As jy goed voel, is jy ‘n beter mamma. Maar ook, dit gebeur nie altyd nie en as ek weer sien is die maand verby!
Hier is paar goedjies wat ek probeer doen.
– ‘n Warm koppie tee iewers in die dag. (Gewoonlik as baba slaap en die dogtertjies besig is met self speel)
– Gesig/Voet masker twee weekliks as almal slaap.
– 1x per maand ‘n mamma bederfie – laat doen my naels/hare/massering,
– As gesin probeer ons ook om op ‘n Saterdag ‘n uitstappie te doen.
– Ook, ek het ‘n fantastiese “hands on” man en my sussie is ook verskriklik lief vir die kinders en is soos hulle tweede mamma en dan is Ouma ook naby, so dit help ook!
5. Hoe lyk ‘n doodgewone dag in julle huis?
Op hierdie stadium lyk dit so (maar dit verander maar saam met die seisoene!) En ook, dis waarna ons poog, dit werk nie elke dag so uit nie.
Ritme 1 (05:30 – 09:00) – koffie, ontbyt, aantrek, hoenders kos gee, tuin natmaak, vryspel en Albertus drink melkie en gaan slaap bietjie.
Ritme 2 (09:00 – 11:30) – Dogtertjies klassie tyd, voorbereiding vir middagete, bak en brou, snack tyd en buite speel of uitstappie, Albertus staan op. Die dogtertjies het ook 1x per week ‘n musiek lessie in die tyd.
Ritme 3 (12:00 – 15:00) Middagete, 30 minute rustyd (die dogtertjies lees boekie/luister stories in hul kamer, kunsaktiwiteit/imaginative play.) Dans klassie 2x per week.
Ritme 4:(15:00 – 17:30) Vryspel buite, swem/fietsry/imaginative play Ritme 5: (17:00 – 20:00) Aandete, aandroetine, slaaptyd.
7. Jy is ‘n opgeleide onderwyseres. Wat is die balangrikste vir kinders – begeleide aktiwiteite of vryheid om self te ontdek en skep? (Gee dalk bietjie konteks of meer inligting)
Op hierdie stadium waar my kinders is, dink ek die heel belangrikste is vryheid om te speel en self te ontdek. Dit is SO belangrik vir imaginative play en leer hulle om self te DINK. Ook , om saam met ons huishoudelike take te verrig en deel te wees van dit wat ons doen, is ook vir hulle SPEEL en LEER.
Maar dit gese, dink ek ook stimulasie is belangrik, ‘n begeleide aktiwiteit is ook nodig en goed. Ek dink wel dit verskil van kind tot kind.
My dogtertjies is bv baie lief vir aktiwiteite wat ons doen in ons klassie tyd, maar dit gaan nie noodwendig dieselfde wees vir my seuntjie as hy op hierdie ouderdom kom nie.
Ek dink die belangrikste om te onthou op hierdie ouderdom is SPEEL leer. Geen 3 jarige moet gedwing word om werkkaarte te doen nie. As jy bv ‘n boekie het met patrone wat hulle kan na trek en dis iets wat hulle graag WIL doen, dan doen jy dit, maar as jy dit gee en hulle wil nie, los dit eerder.
Mens wil ‘n liefde vir leer kweek, nie hulle dwing om goed te doen wat daar nog SOVEEL tyd voor is nie.
Ek dink ook al doen jy geen begeleide aktiwiteite nie, en jy lees vir jou kinders boeke en laat hulle na stories luister is dit klaar ‘n wen!
8. Waar kry jy al jou oulike idees vir aktiwiteite en temas op ‘n begroting?
Pinterest is wonderlik en ook Canva het baie oulike goedjies van inkleurprente tot syfer erkenning.
Ek het ook ‘n programmetjie gekoop met die naam Kleuterklas, wat ek gebruik as ‘n riglyn vir ons tuis skool programmetjie, aangesien my kindertjies nog almal by die huis is.
9. Ek let op dat jou benadering met speel en aktiwiteite baie “open-ended” is. Hoe het
dit jou kinders se kreatiwiteit, fokus en selfvertroue beinvloed?
Kinders het die vermoë om kreatief te dink, maar te veel speelgoed, te veel televisie, te veel skerms, maak dat hulle daardie vermoë verloor, want gewone stadige imaginative play word dan vervelig . Deur vir hulle open ended aktiwiteite te gee soos bv speelklei met ‘n paar interessante items soos wasgoedpennetjies, knope en tandestokkies skep ek ‘n geleentheid vir hulle om kreatief te dink. Ek moet se, ek staan party dae verstom oor waarmee hulle dan vorendag kom. Ek dink as mens hulle die vryheid gun om self te ontdek dan kom hulle God gegewe kreatiwiteit vanself na vore.
10. Meeste mammas in vandag se samelewing (met die ongelooflike druk wat ons van sosiale media ontvang) voel gedruk om altyd MEER te koop, MEER te doen en MEER te wees. Hoe kry jy dit reg om deurlopend te fokus op eenvoud en net gegrond te bly in dit wat jy glo?
Ek dink dis ‘n lokval waarin mens so MAKLIK kan trap. En ek het definitief met my eerste baba daarin getrap! Mens dink jy het massas nodig “to keep them entertained”, maar in werklikheid het kinders nie so baie nodig nie. Wat hulle nodig het is om SAAM met jou goed te doen. Bak saam met hulle die koek, maak die hoenderhok skoon, trek vullis uit in die tuin, laat hulle die groente afwas en die stoep vee. Al is dit stadiger en die vloer is nie noodwendig nou skoon nie, is dit KONNEKSIE, en kweek dit kindertjies wat in die toekoms WIL help en deel vorm van die SPAN.
11. As jy een eenvoudige en goedkoop aktiwiteit kan deel wat die meeste vreugde en konneksie vir julle gesinnetjie bring?
Oeg, definitief ons speelklei. Dis sag en ruik heerlik as jy bietjie lemoen olie ingooi!
Hiers die resep:
3k meel
2 eetlepels kremetart
3 k water
3 eetlepels kookolie
1 koppie sout
Koekkleursel van jou keuse
Gooi alles in pot en roer oor matige hitte, sodra dit van die kante af begin trek gooi uit en knie bietjie deur, sit kleursel en paar drupple gegeurde olie in en jy is reg vir ure van speel!
12. Watse raad of bemoediging sal jy vir ‘n mamma gee wat smag na ‘n meer kreatiewe en intensionele tuiste, maar wat oorweldig voel en onseker is oor waar om te begin?
Begin klein, kies 1 of 2 goedjies wat jy elke dag/week wil doen wat vir jou en die kinders lekker/belangrik is.
Sit waterverf uit en maak kaartjies wat julle kan gebruik vir verjaarsdae. Bak ‘n brood. Pak die yskas reg en laat die kinders die vrugte/groente afwas in asyn water. Gaan sit buite met ‘n koppie tee en gee vir die kinders water/modder en kyk wat gebeur. Sit musiek aan en dans julle harte uit in die kombuis.
13. As jy nou terugkyk – wat is die een ding wat jy wens jy vir jouself kon sê die dag toe jy ‘n mamma geraak het?
Moenie jou te veel steur aan al die selfhelp boeke en die sogenaamde “kenners” nie.
Baie min babas slaap deur die nag en dis OKAY. Dis ook okay om hulle op jou te laat slaap, te borsvoed op aanvraag en te vra vir hulp.
14. Die heel belangrikste – wat het jy by jou ma geleer wat jy elke dag in jou hart dra op
jou moederskapsreis en wat jy ook eendag aan jou kinders sal wil oordra.
Dek die tafel. Ons het grootgeword in ‘n huis waar ons die tafel dek vir van verjaarsdae tot doop
tot nuwe werk. Elke ding, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, dek ons ‘n tafel voor en vier dit en dis iets wat ek met my saamdra en vir my kinders ook leer.

Ek wil afsluit met die baie, baie eenvoudige woorde van “mag jy vreugde he en baie lag….” Want dit is waarvan Aranke en haar gesinnetjie spreek! Mag die klein dingetjies in jul elke dag se saamwees vir jou nuwe betekenis kry en mag jy tasbaar bewus wees van Vader se genade elke nuwe dag.
Met liefde uit die Boesmanland xxx