Ons antwoord al jou skuinskoek vrae!

Tannie Theresa De Vries van Brandvlei het geen bekendstelling nodig nie – sy’s een van die Boesmanland se kroonjuwele! Sy het bekendheid verwerf as “Tannie Skuinskoek” toe sy in die heel eerste Kokkedoor seisoen die beoordeelaars se voete onder hul uitgeslaan het met haar tradisionele skuinskoek.

Ek het dus besluit om by haar te gaan aanklop met al my skuinskoek vrae – aangesien my man nou al moeg is vir minder perfekte probeerslae! Tannie Theresa was gewillig om haar grootste geheime met ons te deel…

1. Gee ons so bietjie agtergrond van tannie se grootword en kos? Het tannie ‘n ma/ouma gehad wat lief was vir die kombuis en by wie tannie geleer het?

Ek het op ‘n plaas langs die Olifantsrivier, Spruitdrift, naby Vredendal grootgeword. My ma, Drieka Burnett, was ‘n uithaler-bakster en haar spesialiteit was skilferkorsdeeg. Ek het grootgeword met tafels vol beskuit, terte en koeke uit my ma se hande. Sy was pynlik oor die perfekte voorkoms van veral kleinkoekies, almal ewe groot en gemmerkoekies MOET krakies op hê! Sy het aan die plaaslike VLV behoort en daar het sy alle fyn kunsies van gebak geleer. Ek het Huishoudkunde tot matriek geneem, maar my baklus het eers in die Boesmanland tot uitlating gekom… met die hulp van my skoonma en Ma Drieka. Ek het gebak vir ‘n ekstra inkomste en het ‘n besondere liefde vir tradisionele gebak en kos uit die streek ontwikkel. Skuinskoek en soetsuurdeegbrood was eerste op die lys. Ek het die soetsuurdeeg redelik gou onder die knie gekry, maar die skuinskoek het ‘n rukkie geneem. Ek het ‘n heuningmoerplantjie in die hande gekry, seker 40 jaar gelede, en gebruik dit tot op hede. Dit het ‘n unieke metode en die smaak is kenmerkend in die skuinskoek. Die skuinskoek bly ook langer vars. Skuinskoek het ‘n nuwe wêreld vir my oopgemaak toe ek dit as oudisiegereg vir KOKKEDOOR voorgesit het en my TV-pad begin het. Ek staan vandag nog bekend as Tannie Skuinskoek by die publiek!

Tannie Theresa en haar ma Drieka
Tannie Theresa en haar ma Drieka

2. Hoe lyk en proe die perfekte skuinskoek?

Die perfekte skuinskoek het skerp puntjies bo en onder met ‘n langwerpige vol uitgerysde bruingebakte lyfie.

3. Wat is die regte olie-temperatuur om skuinskoek in te bak?

Ek het nog nie die grade gemeet nie, maar dit moet so warm wees as jy die rou deeg in die olie sit moet dit binne 10 tellings bo-op die olie dryf. Ek roer dit aanhoudend totdat dit gaar en bruin is.

4. Bak ek in suiwer olie of meng ek dit met skaapvet?

Ek meng 2 liter sonneblomolie en ‘n halwe koppie uitgebraaide hardevet of sagtevet.

5. Hoekom raak my skuinskoek olierig en swaar asook kurkdroog sodra dit afkoel?

Die olie is te koud of jou deeg het nie goed gerys nie. Die deeg moet goed uitgerys wees voor dit gebak word. As die skuinskoek droog is na bak, het jy te min smeer in jou deeg geknie. Moenie laevet margarien gebruik nie, slegs 70% tot 80% margarien of sagte skaapvet.

6. Hoekom bars my skuinskoek oop as ek dit in die olie gooi?

As die koekies bars, is jou deeg te styf of die olie te koud. Dit moet redelik slap wees, dit moet net-net wil vassit aan jou hande. Moet ook nie jou skuinskoek vooraf almal sny en dan laat staan tot jy hul bak nie. [Sny in sarsies en gooi onmiddelik in om te bak as klaar gesny – Mercia Miller, Pofadder]

7. Hoe sny ek skuinskoek dat dit die tradisionele vorm het?

Rol of druk die deeg ongeveer 2 cm dik plat, sny in stroke wat so 4 cm is en sny elke strook in diagonale snye, 3cm breed.

8. Wat is die beste rysmiddel om in skuinskoek te gebruik?(As ek tradisioneel wil doen maar ook ‘n opsie as ek bietjie vinniger kortpad soek?)

Tradisioneel gebruik jy die heuningmoerplantjie, maar kitsgis is ‘n goeie kortpad.

9. Enige ander tips om die perfekte skuinskoek te bak?

  • Probeer eers met 1kg deeg.
  • Die verhouding suiker in die resep is 1 en ‘n halwe koppie suiker per kg meel
  • Skroei die anys oor lae hitte in ‘n pan, dit bring die geur beter uit.
  • Jy kan ook knippie neutmuskaat bysit, dit bring die anysgeur ook beter uit, so kwart teelepel op 1 kg meel
  • Gebruik genoeg sout per kg – 10ml fyn sout
  • Gebruik kwart koppie sagte vet of margarien. Knie dit laaste in. Knie die deeg vir ten minste 15 minute tot dit elasties is. Dit moet ‘n sagte deeg wees wat net-net aan jou hande wil vassit.

En daar het jy dit nou! Ek deel graag tannie Theresa se Resep vir ‘n eerste probeerslag in ‘n volgende blog. En ook ‘n alternatiewe resep van Local is Lekker Tuisnywerheid [Pofadder] hier.

Maar as jy ooit pad vat N14 langs maak gerus ‘n draai by ons plaaslike Skuinskoek koningin by die KLK vulstasie op Pofadder en bederf jou met ‘n sakkie of 3 bruinlyf skuinskoeke – jy sal nie spyt wees nie!

Met liefde uit ‘n sonnige en warm Boesmanland xxx

nog lekker resepte